Genadeland GF4GF Centre

Town

Victoria West, Northern Cape

Established

2017 (First intake 2018)

Main instruction Language

Afrikaans

Applications for GoodYear 2019 opens Mid September

If you are between 18 – 23, be part of a unique GAP year experience: GoodYear 2019.

Click link to the right to receive notice when applications have opened.

Baie jare gelede, rondom 1840, toe Leeus nog in die Karoo rondgeloop het en predikante nog te perd huisbesoek gedoen het, bedien Colin Fraser die boere van Uitvlugt en Nieuweveldt vanuit die kerkhuis op Kapoksfontein waar hy tuisgaan as hy in hierdie dele is.  Hy kom te perd vanaf Beaufort-Wes en besoek die verafgeleë boere, soos ook Fraserburg getuig, wat na hom vernoem is.

Hy nader die kerk om ‘n gedeelte van Kapoksfontein en Zeekoegat te koop om ‘n dorp te stig om die boere te bedien en die dorp word vernoem na die Britse koningin, Victoria.  Later verander die naam na Victoria-Wes.  Erwe word uitgelê op Kapoksfontein, maar toe word die potensiële ligging van ‘n dorpsdam enkele kilometer daarvandaan opgemerk en die dorp word gebou waar dit vandag is, ‘n ligging wat meer geskik was omdat leiwater vanuit die dam sou moontlik wees.

Die sewe erwe buite Victoria-Wes staan vandag bekend as Kapoksfontein en dis hier waar die geestelike fondasies van Victoria-Wes lê, die plek waar bediening in hierdie area begin het, die plek waar ons die voorreg het om Genadeland GF4GF-Centre te begin.  GF4GF:  Good Foundations for Good Fruit.

‘n Vriend  van ‘n vriend besoek toe ons manne gebedsgroep een Vrydag oggend.  Sy naam is David en hy is op besoek hier, vanaf Boston Amerika.  Hy voel sterk dat Victoria-Wes ‘n plek van genade is.  In engels is daar twee woorde vir genade, naamlik mercy and grace.

Mercy – not to get what you deserve.

Grace – to get what you don’t deserve.

Hennie by wie David kom kuier het vertel ook van die Malawiese tweeling wat hy name moes gee en dat hy hulle Victoria en Hope genoem het en dat hy voel dit is profeties vir Victoria-Wes.

‘n Paar jaar later toe dinge op ‘n plek kom waar ons ‘n beplanningsgesprek by Hennie op sy plaas het rondom die begin van die opleidingsentrum op Kapoksfontein, is dit sonder dat ons vooraf geweet het, ook die naweek in die jaar wat David daar is.  David besluit daar om die salaris van die sentrumleier wat ons moet aanstel vir die eerste jaar te skenk.

God is besig hier.

Ons land is nie ‘n donkerland nie, ons land is ‘n Genadeland.

‘n Land van mercy en van grace en van hope, omdat daar ‘n God is van mercy en van grace en van hope.

“Julle gaan Kapoksfontein by my koop”, so sê een van my oud onderwysers eendag vir my pa.  Toe my pa dit aan my vertel, sê ek:  “maar dis die plek, ek het nooit daaraan gedink nie, maar dis die plek”.  Sien ek loop toe al ‘n geruime tyd met ‘n visie, ‘n droom van ‘n opleidingsentrum.  ‘n Visie wat ek oortuig is kom van die Here.  Ek bel die oom en vra vir ‘n opsie, maar waar moet ek die geld kry?  Sy prys is R1.2 miljoen.

Soos ‘n goeie karooboer maak, ry my verkyker altyd saam.  Ek stop om na ‘n troppie springbokramme te kyk, “soos jy tot vervelens toe maak” sal my vrou sê, en sien iets wat ek nog nooit voorheen gesien het nie.  ‘n Springbokram met sulke lang horings dat jy ‘n tweede en derde keer moet kyk om seker te maak jy sien reg.  Die tweede ding wat saamry is my kamera.  Ek neem toe ‘n foto, die eerste van ‘n hele paar van die ram… “tot vervelens toe”, sal my vrou weer sê.  Dis ‘n mooi bok… “maar alle bokke is mooi”… toemaar.  Die derde ding wat saamry is my waterbottel.  Ek is nie seker of ek ‘n slukkie gevat het nie, maar ek kon maar, want dis mý bottel.  As dit my vrou s’n was was ek in die moeilikheid want “jou slukkie is die helfte van my bottel!”  Dinge verander, my verkyker is nie meer eerste om saam te gaan nie, my seuntjie Benjamin is.  En ek sien die bokke ook nie meer eerste nie, hy sien hulle.  Wat seker is, is dat daardie bok ons lewe verander het.  Basjan het iemand hom gedoop.

Op ‘n stadium bel my onderwyser toe, daar is iemand anders wat belangstel, wil ons Kapoksfontein nog koop?  Ek sê ja, maar ek weet nie waar gaan die geld vandaan kom nie.  Wat ek weet is dat ek vrede het, die soort wat verstand te bowe gaan.  Vrede dat Kapoksfontein die plek is waar ons die opleidingsentrum moet begin.

‘n Paar maande later vang ons springbokke en ek sê voor die tyd vir die manne wat kom vang van die bok.  As hy in die nette kom, laat los ons hom dadelik.  En sowaar hy hardloop daar in en deur die genade breek hy nie ‘n horing af of kom iets oor nie.  Die manne vang baie jare bokke, maar so iets, sê hulle, het hulle nog nie gesien nie.   En toe wil hulle hom koop.  Wat vra ‘n mens nou vir so ‘n bok?  Ek was die vorige jaar op dieselfde manne se veiling en toe gaan daar ‘n ram wat so 2 duim korter horings het R40 000.  Dan kan ek darem seker nie minder as R80 000 vra nie, sê ek, en dink ek vat ‘n wilde kans.  As jy R80 000 wil hê moet jy sê, antwoord hy.  Ek het nie toe geweet dat die hoogste prys vir ‘n springbok op daardie stadium R80 000 is nie.  Nou hoe sê ‘n mens nee vir R80 000 vir ‘n springbokram?  Dis is sowat 100 maal sy biltongwaarde.  En hoe sê jy vir jou familie jy het nee gesê.  In my hart was daar nie vrede nie.  Dankie Here dat U soms U vrede wegvat ter wille van ons beswil.  Later bel hy my en sê dat ons die bok op ‘n veiling moet sit, dan kan ons sien wat sy markwaarde is en ek kan mos besluit of ek hom daarvoor wil laat gaan.  Daar is risiko daarmee saam, maar ek stem in.  Nou moet ons besluit op ‘n reserweprys… vir hoeveel rand het ons vrede?  “Tot vervelens toe” praat ons oor die bok en die prys en later toe die bok nou begin grens aan afgod raak, sê ek vir die Here:  “Laat die prys wat die bok gaan betekenis hê.”  Die afslaer het begin op R200 000, geen bod.  R100 000.  R50 000.  En toe hardloop hy weg.  Nie die bok nie, die bod!  Op R1.2 miljoen gaan hy staan… “en die bok sorg vir die koopprys van ‘n stuk grond” Spr.27:26

Nou ja, my onderwyser het ons afslag gegee en ons het die koopprys in paar paaiemente betaal, maar die Here het bevestiging gegee en voorsien.

Grace – “to receive what you do not deserve.”